Wikipedia:Voorbladartikel week 52 2021

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Aspluime tot 19 km hoog tydens die uitbarsting van die berg Pinatubo in die Filippyne (1991)..

'n Vulkaan is 'n skeuring in die kors van 'n planeet soos die Aarde wat toelaat dat warm lawa, vulkaniese as en gasse uit 'n magmakamer onder die oppervlak ontsnap.

Vulkane op die Aarde bars uit omdat die kors in 'n paar groot, rigiede en verskeie kleiner tektoniese plate verdeel is wat op 'n warmer, sagter laag (die aardmantel) dryf. Die aarde se vulkane vorm oor die algemeen waar tektoniese plate na mekaar beweeg (konvergent) of weg van mekaar beweeg (divergent). Die meeste is onderwater. 'n Rif in die middel van 'n oseaan, soos die Mid-Atlantiese Rug, vorm byvoorbeeld as gevolg van divergente plate, terwyl die Ring van Vuur se vulkane gevorm word deur konvergente plate.

Vulkane kan ook vorm waar die aardkors se plate gerek en dus verdun word, soos met die Oos-Afrikaanse Skeur. Vulkanisme op ander plekke as by plaatgrense word vermoedelik veroorsaak deur opstotende magma vanaf die grens tussen die Aarde se mantel en kern, 3 000 km onder die oppervlak. Dit veroorsaak warmkolvulkanisme, waarvan die Hawaise warm kol 'n voorbeeld is. Vulkane vorm gewoonlik nie waar twee tektoniese plate verby mekaar skuif nie.

Groot vulkaanuitbarstings kan die atmosferiese temperatuur beïnvloed wanneer as en druppels swaelsuur die Son verduister en die Aarde se troposfeer afkoel. Dit absorbeer ook die hitte wat van die Aarde af uitgestraal word en verhit die stratosfeer. Groot uitbarstings word soms gevolg deur vulkaanwinters, wat al rampspoedige hongersnood veroorsaak het.

Ander gevolge is vir onder meer lugvaart, wanneer die as dit moeilik of onmoontlik vir vliegtuie maak om te vlieg.

...lees verder