Vlag van Georgië

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Vlag van Georgië
Vlag van Georgië
Vlag van Georgië
Bynaam (ka) ხუთჯვრიანი დროშა
(af) Vyfkruisevlag
Gebruik Burgerlike- en staatsvlag en vaandel Burgerlike en staatsvlag en -vaandel
Verhouding 5:9
Goedgekeur 14 Januarie 2004[1]
Ontwerp ’n Rooi Sint Joriskruis op ’n wit agtergrond met ’n rooi Bolnoer-Katskhoeri-kruis in elk van die kwadrante.

Die nasionale vlag van Georgië (Georgies: საქართველოს სახელმწიფო დროშა; sakartwelos sachelmtsʼipo drosja), ook bekend as die Vyfkruisevlag (ხუთჯვრიანი დროშა, choetjwriani drosja), is op 14 Januarie 2004 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n rooi Sint Joriskruis op ’n wit agtergrond met ’n rooi Bolnoer-Katskhoeri-kruis in elk van die kwadrante. Dit was oorspronklik die vlag van die Middeleeuse Koninkryk Georgië en is aan die einde van die 20ste en die begin van die 21ste eeu tydens die Georgiese nasionale herlewing in hergebruik geneem.

Geskiedenis[wysig | wysig bron]

Vroeë Georgiese state[wysig | wysig bron]

Die eerste Georgiese vlag is tydens die eerste Georgiese staat, die Prinsdom Iberië, in gebruik geneem wat ’n rooi kruis in die middel op ’n wit agtergrond gehad het, soortgelyk aan die vlag van Engeland. Die daaropvolgende Prinsdom Tao-Klarjeti het dieselfde vlag gebruik.

Middeleeuse Georgiese vlae[wysig | wysig bron]

Detail van die Pizzigano-kaart van 1367 met Tbilisi en sy vlag

Die wit vlag met ’n enkele rooi Sint Joriskruis is vermoedelik gebruik deur Koning Vachtang I in die 5de eeu.[2] Volgens oorlewering het koningin Tamar ’n vlag met ’n donkerrooi kruis en ’n ster op ’n wit baan gebruik.[3]

In die kaart van 1367 deur Domenico en Francesco Pizzigano word die vlag van Tifilis (Tbilisi) aangedui as ’n Jerusalemkruis (’n groot kruis met kleiner kruise in elke kwadrant). Volgens D. Kldiasjwili (1997) is die Jerusalemkruis aanvaar ná die heerskappy van koning George V.[4]

Transkaukasiese Demokraties-Federatiewe Republiek (1918)[wysig | wysig bron]

In 1828, ná die laaste Russies-Persiese oorlog, is verskeie van die Khanate van die Kaukasus deur die Russiese Ryk geannekseer. Toe die Russiese Ryk tot ’n val gekom het, het Russies-Georgië sy onafhanklikheid verklaar en by die kortstondige Transkaukasiese Demokraties-Federatiewe Republiek aangesluit, saam met Azerbeidjan en Armenië. Hierdie verenigde staat het skaars ’n jaar bestaan voordat dit ontbind is. Omdat die Republiek so ’n kort bestaan gehad het, het dit geen vlae of simbole gebruik nie. Sommige historici beskou ’n horisontale goud, swart en rooi driekleur, soortgelyk aan die vlag van Duitsland met die kleure wat anders gerangskik is, egter as ’n vlag wat vir Transkaukasië gebruik is.[5] Die federasie is op 26 Mei 1918 ontbind toe Georgië sy onafhanklikheid verklaar het as die Demokratiese Republiek van Georgië. Armenië en Azerbeidjan het twee dae later, op 28 Mei 1918, ook hul onafhanklikheid verklaar as die Demokratiese Republiek van Armenië en die Demokratiese Republiek van Azerbeidjan onderskeidelik.

Demokratiese Republiek van Georgië (1918–1921)[wysig | wysig bron]

Gedurende Georgië se kortstondige bestaan as ’n onafhanklike staat as die Demokratiese Republiek van Georgië van 1918 tot 1921 is ’n vlag met ’n donkerrooi baan met ’n swart en wit baan in die skildhoek aanvaar. Dié ontwerp het gekom ná ’n vlagontwerpkompetisie wat gewen is deur die skilder Iakob Nikoladse. Dit is in 1921, ná die inlywing van Georgië by die USSR, deur die Sowjetunie afgeskaf. Ná die ontbinding van die Sowjetunie het Georgië ’n verlengde weergawe van die vlag aanvaar.

Transkaukasiese Sosialistiese Federatiewe Sowjetrepubliek (1922–1936)[wysig | wysig bron]

Op 29 November 1920 het die Bolsjewiste die Armeense SSR gestig. ’n Nuwe vlag is aanvaar en in die grondwet vasgelê wat op 22 Februarie 1922 goedgekeur is deur die Eerste Sowjetkongres van die Armeense SSR.[6] Daardie vlag het slegs vir ’n maand bestaan want op 12 Maart het die Armeense SSR met die Georgiese SSR en die Azerbeidjanse SSR saamgesmelt om die Transkaukasiese SFSR tot stand te bring. Op 30 Desember 1922 het die Transkaukasiese SFSR een van die vier Sowjetrepublieke geword wat saamgesmelt het om die Sowjetunie te vorm. Die vlag van die republiek het ’n hamer en sekel in ’n ster gehad met die letters “ЗСФСР” (ZSFSR) in Russies daarop. Hierdie letters staan vir Закавказская Советская Федеративная Социалистическая Республика (Zakawkazskaja Sowjetskaja Federatiwnaja Sotsalistitsjeskaja Respoeblika, “Transkaukasiese Sosialistiese Federatiewe Sowjetrepubliek”).[6] In 1936 het die TSFSR ontbind in sy drie samestellende gebiede, onderskeidelik die Georgiese, Armeense en Azerbeidjanse SSR’e.

Georgiese Sosialistiese Sowjetrepubliek (1921–1990)[wysig | wysig bron]

Gedurende die Sowjetperiode het Georgië verskeie aanpassings van die rooi Sowjetvlag aanvaar met eers die naam van die Georgiese Sosialistiese Sowjetrepubliek daarop en later ’n hamer en sekel met ’n ster in ’n blou son in die skildhoek met ’n horisontale blou baan in die boonste gedeelte van die vlag. Die vlag van die Georgiese SSR is in November 1990 deur die Georgiese regering vervang met dié van die Demokratiese Republiek van Georgië kort voordat onafhanklikheid van die Sowjetunie verklaar is.

Republiek Georgië (1990–2004)[wysig | wysig bron]

Die vorige vlag wat deur die Demokratiese Republiek van Georgië van 1918 tot 1921 gebruik is, is op 14 November 1990 herstel deur die Opperraad van die Republiek Georgië. Dit het daarna egter gewildheid verloor omdat dit geassosieer is met die chaotiese en gewelddadige tydperk rondom die ontbinding van die Sowjetunie. Die wynrooi kleur het goeie tye in die verlede en toekoms gesimboliseer, die swart het vir Russiese oorheersing gestaan en die wit vir hoop en vrede.[7]

Huidige vlag[wysig | wysig bron]

Die vyf kruise op die huidige Georgiese vlag word soms geïnterpreteer as die Vyf Heilige Wonde of alternatiewelik Jesus en die vier Evangeliste.[8]

Die huidige vlag is deur die Georgiese Patriotiese beweging gebruik ná die land se onafhanklikheid van die Sowjetunie in 1991. Teen die laat 1990’s het die destydse ontwerp bekend gestaan as ‘die Georgiese historiese nasionale vlag’ nadat vlagkundiges die rooi-en-wit Jerusalemkruis op ’n 14de-eeuse kaart van Domenico en Francesco Pizzigano as die vlag van Tbilisi uitgewys het.[9] In laat 2021 kon met hulp van ’n nuut ontdekte muntstuk van Dawid die Bouer met vyf kruise die Georgiese vlag na die 12de eeu terugdateer word.[10] Volgens die Staatsraad vir Heraldiek is dié muntstuk van grootste belang en dit is ’n onmiskenbare bewys dat die Georgiese vlag tydens die heerskappy van koning Dawid IV gebruik is.[11]

’n Meerderheid Georgiërs, insluitende die invloedryke Katolikos-patriarg van die Georgies-Ortodokse en Apostoliese Kerk, het die herinstelling van die vlag ondersteun en in 1999 het die Parlement van Georgië ’n konsepwet deurgevoer om die vlag te verander. Dit is egter nie deur die destydse president Edward Sjewardnadse onderskryf nie. In die vroeë 2000’s is die vlag deur die hoofopposisieparty, die Verenigde Nasionale Beweging onder leiding van Micheil Saakasjwili aangeneem as ’n simbool van weerstand teen Sjewardnadze se regering en as ’n simbool vir die Roosrewolusie.[12]

Op 14 Januarie 2004 is die vlag deur die parlement aanvaar.[13] Saakasjwili het dit formeel onderskryf deur die Presidensiële Dekreet No. 31 op 25 Januarie,[14] nadat hy as president verkies is. Sedertdien word jaarliks op 14 Januarie in Georgië vlagdag gevier.[13]

Ontwerp[wysig | wysig bron]

Die nasionale vlag van Georgië word soos volg in die dekreet beskryf:

Die Georgiese nasionale vlag is ’n wit reghoek met ’n groot rooi kruis op wat al die vier kante raak. In die vier hoeke is vier bolnoer-katskhoeri-kruise (nes die grapevine-kruis ook Georgiese kruise genoem) van dieselfde kleur (soos die groot kruis).


Die Georgiese vlag het die volgende tegniese ontwerp:

Konstruksietekening
Konstruksietekening

Kleure[wysig | wysig bron]

Die kleurskema word hieronder gelys:

Rooi Wit
RGB 255-0-0 255-255-255
CMYK 0-100-100-0 0-0-0-0
Pantone 485 C Safe
Web #FF0000 #FFFFFF

Simboliek[wysig | wysig bron]

Die wit agtergrond verteenwoordig onskuld, kuisheid, reinheid en wysheid. Die rooi kruise verteenwoordig moed, dapperheid, geregtigheid en liefde.

Die vlag se sentrale element is die rooi Sint Joriskruis op ’n wit agtergrond, soortgelyk aan die vlag van Engeland s’n. Daar is ook ooreenkomste met die standaard van die keiser in die laat Bisantynse Ryk onder die Palaiologos-dinastie. Volgens die Georgiese geleerde Giorgi Gabeskiria is die vier bykomende kruise in die 14de eeu onder die heerskap van die Georgiese koning George V tot die vlag gevoeg.

Sodoende het die vyf kruise ’n variant geword van die Jerusalem, wat die kruisvaarder Godfried van Bouillon in 1099 as die wapen van die Koninkryk Jerusalem ingevoer het. Dit was tot in 1291 die wapen van die Koninkryk Jerusalem. Anders as in Georgië was in Jerusalem die kruise in geel. Aangesien Bouillon na homself as heerser van Jerusalems as “Beskermer van die Heilige Graf” verwys het, word die vyf kruise ook met die Graf van Christus geassosieer.

Die vyfkruisevlag is glo tot in die 15de eeu in Georgië gebruik. Dit verteenwoordig Georgiese gebied op seekaarte deur Angelino Dulcert (in 1339), Francesco en Domenico Pizigano (in 1367) en Sider (in 1565).

Subnasionale vlae[wysig | wysig bron]

Die vlae van Adzjarië en Georgië

Abchasië en Suid-Ossetië het hul onafhanklikheid van Georgië verklaar, wat tot dusver deur min lande erken word. Adzjarië is nog ’n outonome republiek binne die land.

Abchasië[wysig | wysig bron]

Op 23 Julie 1992 het Abchasië sy eie vlag amptelik in gebruik geneem. Voorbeeld vir die handsimbool is ’n historiese vlag van Sebastopols, die huidige hoofstad Soechoemi. Dit word in ’n boek uit die jaar 1350 genoem. Die Abchasiese Outonome Sosialistiese Sowjetrepubliek het ook oor sy eie vlag beskik.

Adzjarië[wysig | wysig bron]

In 2004 het Adzjarië by Georgië heraangesluit. Dit word deur die Georgiese vlag in die skildhoek van die vlag van Adzjarië beklemtoon.

Suid-Ossetië[wysig | wysig bron]

Die driekleur van Suid-Ossetië is identies aan die ekwivalent van die Russiese buurgebied Noord-Ossetië-Alanië. Op 26. November 1990 is dit met die grondwet amptelik in gebruik geneem en op 30 Maart 1992 deur ’n dekreet bekragtig. Die vaandel van Suid-Ossetië met die wapen daarop is die presidentsvlag van die afskeidingsgesinde regering.

Kommunale vlae[wysig | wysig bron]

Van die Georgiese munisipaliteite beskik oor hul eie vlae.

Ander vlae[wysig | wysig bron]

Soortgelyke vlae[wysig | wysig bron]

Soos die vlag van Engeland toon die vlag van Georgië ’n rooi Sint Joriskruis op ’n wit agtergrond, maar laasgenoemde verskil deur die gebruik van vier Bolnur-Katskhuri-kruise in elk van die kwadrante.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. (en) "Georgië". Flags of the World. 30 November 2013. Besoek op 28 Mei 2024.
  2. (en) Theodore E. Dowling, Sketches of Georgian Church History, New York, bl. 54. D.M.Lang – Georgia in the Reign of Giorgi the Brilliant (1314–1346). Bulletin of the School of Oriental and African Studies, Universiteit van Londen, Vol. 17, No. 1 (1955), bl.84. G. Macharashwili დროშა გორგასლიანი, თბ. 2011.
  3. (en) "Flag of Georgia". Encyclopædia Britannica. Besoek op 28 Mei 2024.
  4. (ka) David Kldiasjwili, ქართული ჰერალდიკის ისტორია (“Geskiedenis van Georgiese heraldiek”), Parlamentis utskebani, 1997; bl. 30-35.
  5. (ru) "Закавказская Федерация (Transkaukasiese Demokraties-Federatiewe Republiek)". Russiese Sentrum vir Vlagkunde en Heraldiek. 30 Mei 2003. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Junie 2006. Besoek op 22 Junie 2006.
  6. 6,0 6,1 (ru) "Советская Армения (Sowjet-Armenië)". Russiese Sentrum vir Vlagkunde en Heraldiek. 14 November 2004. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Oktober 2019. Besoek op 22 Oktober 2019.
  7. (en) Steve Luck, ed. (1997). Oxford Family Encyclopedia (1ste uitg.). Londen: George Philip. p. 281. ISBN 0-19-521367-X. {{cite book}}: |author= has generic name (hulp)
  8. (en) Michael Spilling, Winnie Wong: Georgia bl. 37.
  9. (en) “Die nuwe vlag van Georgië hou nie verband met hierdie historiese banier nie. Die vlag van die Nasionale Beweging was tien jaar gelede (1993) onbekend en is ‘die Georgiese historiese nasionale vlag’ genoem deur opposisieleiers nadat die vlagkundige I.L. Bichikasjwili daaroor gepubliseer het.” Michail Rewniwtsef, 25 November 2003 crwflags.com
  10. (en) "Newly-Discovered Coin Dates Georgian Five-Cross Flag Back to XII Century". Georgian Journal. 27 Desember 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 April 2024. Besoek op 1 April 2024.
  11. (en) "About the new discovered coin". Staatsraad vir Heraldiek. 24 Desember 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Januarie 2022. Besoek op 11 Januarie 2022.
  12. (en) “’n Meerderheid van Georgiërs insluitend die patriarg van die Georgies-Ortodokse Kerk is lank reeds ten gunste van die aanvaarding van die vyfkruisvlag as die volk se amptelike vlag. Die uittredende president het alle pogings tot verandering gestuit. In 1999 het die Georgiese parlement gestem om die vlag te verander en al wat Sjewardnadze moes doen was om ’n dekreet ter ondersteuning uit te vaardig. Hy het, onverklaarbaar, geweier en eerder gekies om ’n magtelose Heraldiese Kommissie tot stand te bring om die saak te bestudeer. Toe Saakasjwili die Nasionale Beweging in 2001 begin het was die vyfkruisvlag die natuurlike keuse om sy party se gewildheid te demonstreer.” Brendan Koerner, 'Wat gaan aan met Georgië se vlae?', Slate, 25 November 2003.
  13. 13,0 13,1 (ka) "Georgia celebrates National Flag Day today". Agenda. 14 Januarie 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Februarie 2017. Besoek op 2 Februarie 2017.
  14. (ka) "Presidensiële Dekreet No. 31". Wetgewende Herald van Georgië. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Februarie 2017. Besoek op 2 Februarie 2017.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]


Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.