The Lookout

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Sir Percy Fitzpatrick en sy vrou Lady Fitz is by The Lookout langs die Sondagsrivier naby Kirkwood begrawe. Die terrein is in 1953 tot 'n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

The Lookout lê effens noord van Sunland, 'n nedersetting aan die pad tussen Kirkwood en Addo. Fitzpatrick het die stukkie grond op die oostelike oewer gekoop sodat sy gaste vanaf daardie uitstekende rotspunt 'n onbelemmerde en besonder wye uitsig oor die landerye en lemoenboorde in die vrugbare Sondagsriviervallei kon kry. Boonop het hy daar 'n uitkyktoring laat bou met daaromheen die inheemse plante van die gebied. In 1953 het sy skoonseun en dogter die terrein aan die staat geskenk met 'n ruim bedrag vir die instandhouding daarvan.

'n Plaat aan die toring gedenk sir Percy se seun, Percy Nugent George Fitzpatrick, wat tydens die Eerste Wêreldoorlog in Frankryk gesneuwel het.

Bibliografie[wysig | wysig bron]

  • Oberholster, J.J.: Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972. ISBN 0-620-00191-7