Sven I van Denemarke

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Sven Vurkbaard
Koning van Denemarke, Noorweë en Engeland

Huis Jelling
Titel Koning van Denemarke
Regeer 9861014
Voorganger Harald Bloutand
Opvolger Harald II
Titel Koning van Noorweë
Regeer 986995
1000–1014
Voorganger Harald Bloutand
Olaf Trygvasson
Opvolger Olaf Trygvasson
Olaf die Heilige
Titel Koning van Engeland
Regeer 1013–1014
Voorganger Ethelred II
Opvolger Edmund Ironside
Eggenote Gunhilda van Wenden
Kinders Harold
Knoet
Gebore c. 960; Denemarke
Oorlede 3 Februarie 1014; Engeland
Vader Harald Bloutand
Moeder Gyrid Olafsdottir

Sven Vurkbaard (Deens: Svend Tveskæg; c. 960, Denemarke3 Februarie 1014, Engeland) was koning van Denemarke, Engeland en dele van Noorweë. Hy was na bewering die stigter van die stad Kopenhagen saam met sy seun Knoet die Grote. Sy bynaam kom van sy hooivurkvormige baard wat in dié tyd gewild was, veral in Engeland.

Denemarke en Noorweë[wysig | wysig bron]

Die Seeslag van Svolder deur Otto Sinding (1842–1909)

Groot dele van Sven se lewe word betwis. Die besonderhede weerspreek mekaar dikwels, veral in geskrifte uit sy tyd soos die Anglo-Saxon Chronicle, Adam van Bremen se Gesta Hammaburgensis Ecclesiae Pontificum en die Heimskringla, ’n 13de-eeuse werk deur die Yslandse skrywer Snorri Sturluson.[1]

Sven was ’n Vikingleier wat sy pa, Harald Bloutand, in 986 opgevolg het as koning van Denemarke. Op 9 September 999 het hy, saam met die Swede, die Noorse koning Olaf I Tryggvason in die Seeslag van Svolder verslaan. Olaf het tydens die gevegte verdrink. In 1000 het Sven die mag in ’n deel van Noorweë oorgeneem.

Engeland[wysig | wysig bron]

Sven het met ’n hele reeks aanvalle op Engeland begin nadat koning Ethelred II in 1002 besluit het om alle Dene in die land uit te moor uit vergelding vir die talle Deense invalle in dié tyd. Onder die vermoordes was Sven se suster en swaer.[2] In Desember 1013 het Sven eindelik die mag in Engeland oorgeneem toe Ethelred na Normandië gevlug het. Nadat hy vyf weke lank oor Engeland regeer het, is hy in Gainsborough, Lincolnshire, dood.

Sven was getroud met die weduwee van koning Erik VI van Swede, Gunhilda (eintlik Swiatoslawa), ’n dogter van Mieszko I van Pole. Hy is as koning van Denemarke opgevolg deur sy oudste seun, Harald II en as koning van Engeland deur sy ander seun, Knoet die Grote.

Nalatenskap[wysig | wysig bron]

Sven se seun Knoet en kleinseuns Harold Haasvoet en Hartaknoet het 26 jaar lank oor Engeland regeer. Ná Hartaknoet se dood het die troon egter teruggegaan na die Huis van Wessex.

Sven se afstammelinge deur sy dogter Estrid regeer tot vandag oor Denemarke. Een van sy afstammelinge, Margrete van Denemarke, het getrou met Jakobus III van Skotland en so Sven se bloed in die Skotse koninklike bloedlyn ingebring – en nadat Jakobus VI van Skotland die Engelse troon in 1603 geërf het, ook in die Engelse koninklike bloedlyn. Alle Engelse en Britse monarge sedert 1603 is dus afstammelinge van Sven.

Verwysings[wysig | wysig bron]

Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Nederlandse Wikipedia-artikel nl:Sven Gaffelbaard
  1. Howard, Ian, Swein Forkbeard's Invasions and the Danish Conquest of England, 991– 1017. 1ste uitgawe, Woodbridge & Boydell (2003), ISBN 0-85115-928-1.
  2. Ashley, Mike, British Monarchs; A complete genealogy, Robinson Publishing (1998) p.483