Vlag van Nederland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Nederlandse vlag)
Vlag van Nederland
Vlag van Nederland
Vlag van Nederland
Bynaam (nl) Vlag van het Koninkrijk der Nederlanden
Gebruik Nasionale vlag en vaandel Nasionale vlag en vaandel
Verhouding 2:3
Goedgekeur 19 Februarie 1937[1]
Ontwerp 'n horisontale driekleur in rooi, wit en blou
Wisselvormvlag van Nederland
Wisselvormvlag van Nederland
Bynaam (nl) Prinsengeus[2]
Gebruik Vlootvaandel Vlootvaandel
Verhouding 2:3
Wisselvormvlag van Nederland
Wisselvormvlag van Nederland
Bynaam (nl) Standaarden van het Nederlandse Koninklijk Huis
Verhouding 1:1
Goedgekeur 27 Augustus 1908

Die nasionale vlag van Nederland verteenwoordig Nederland, maar ook die eenheid en onafhanklikheid van die hele Koninkryk van die Nederlande. Die rooi-wit-blou word sowel op land asook op see gebruik as burgerlike vlag, staatsvlag (diensvlag) en oorlogsvlag.

Die Nederlandse vlag is ’n driekleur wat bestaan uit drie ewe groot horisontale bane in rooi, wit en blou. In die vlagontwerp van die Ministerie van Algemene Sake word die kleure bepaal as vermiljoen, helder wit en kobaltblou. In die normblad 3055 word hierdie kleure in Internasionale Beligtingskommissie-koördinate gespesifiseer. Dié kleure kan nie regstreeks in Pantone-kodes omgereken word nie, sodat verskillende waardes vir laasgenoemde gebruik word. Vir die vlagverhouding is daar geen regulasies nie. In die niegoedgekeurde 1937-vlagwet is die verhouding tussen hoogte en lengte bepaal as 2:3 en oor die algemeen word dié verhouding steeds gebruik. Die drie bane is ewe groot.

Die huidige ontwerp het sy oorsprong in die 16de-eeuse oranje-wit-blou “Prinsevlag” (Nederlands: Prinsenvlag) wat in die vroeë 17de eeu in die rooi-wit-blou “Staatsvlag” (Statenvlag) ontwikkel het, die vlootvaandel van die Stategeneraal van die Nederlandse Republiek, waarmee die Nederlandse vlag die oudste driekleur is wat deurlopend gebruik word.[3][4][5] Omdat dit ’n vlag is wat die oorgang van monargie na republiek verteenwoordig, het dit as ’n voorbeeld vir die ontwerp van die vlag van Rusland en, ná die Franse Rewolusie in 1789, vir die vertikaal gestreepte vlag van Frankryk gedien; albei vlae het op hul beurt baie ander vlagontwerpe beïnvloed.[5][6]

Tydens die ekonomiese krisis van die 1930’s het die ou Prinsevlag met die kleur oranje ’n mate van gewildheid onder sommige mense verwerf. Om dié verwarring te beëindig, is op 19 Februarie 1937 die kleure rooi, wit en blou en sy amptelike status as die nasionale vlag van die Koninkryk van die Nederlande deur ’n koninklike besluit herbevestig.[7]

Ontwerp[wysig | wysig bron]

Vruntschap deur Jan van Hout (1575), die oudste bekende kleurillustrasie van die Nederlandse vlag. Die vlag steek links op die boonste paneel uit.

Die nasionale vlag van Nederland is ’n driekleur. Die horisontale dwarsbalke is ewe groot bane in die kleure, van bo na onder, rooi (amptelik beskryf as ’n “helder vermiljoen”), wit (silwer) en blou (“kobaltblou”). Die vlagverhouding is 2:3. In November 1958 is die kleurparameters deur die NEN (voormalige HCNN) soos volg gedefinieer:[8][1]

Kleurskema Helder vermiljoen Wit Kobaltblou
Chromaties X=18.3 Y=10.0 Z=3.0 Y=100.0 X=7.5 Y=6.6 Z=25.3
CMYK 0.83.78.32 0.0.0.0 77.47.0.48
RGB (173,29,37) (255,255,255) (30,71,133)
Heksadesimaal #AD1D25 #FFFFFF #1E4785
RAL 2002 9010 5013

In hierdie definisie word 'n standaardligbron C (ook gedefinieer deur die CIE-1931-kleurruimte) gebruik wat teen ’n 45°-hoek inval.[9]

Die Nederlandse vlag is amper identies aan dié van Luxemburg, behalwe dat dit korter is en sy blou- en rooi bane donker skakerings het.[10] Die ooreenkoms van die twee vlae het tot ’n nasionale debat gelei om die vlag van Luxemburg te verander, geïnisieer deur Michel Wolter in 2006.[11]

Simboliek[wysig | wysig bron]

Elke kleurbaan in die Nederlandse vlag het ’n sekere mate aan simboliek vir die land. Die rooi baan verteenwoordig dapperheid, krag, moed en gehardheid; die wit baan vrede en eerlikheid en die blou baan waaksaamheid, waarheid, lojaliteit, deursettingsvermoë en geregtigheid.[12]

Volgens ’n ander teorie beweer sommige deskundiges dat die kleure die samelewing verteenwoordig: rooi verteenwoordig die volk, wit die kerk en blou die adel.[13]

Sien ook[wysig | wysig bron]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. 1,0 1,1 (en) "The Netherlands". Flags of the World. 20 Januarie 2024. Besoek op 3 Junie 2024.
  2. (nl) "Maritieme kalender (April 20, 1931)". Nederlands Scheepvaartmuseum. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 September 2012. Besoek op 14 September 2012.
  3. (en) "Netherlands". Central Intelligence Agency. Besoek op 3 Junie 2024.
  4. (en) Daryl Worthington (17 Oktober 2016). "Why Are So Many Flags Red, White and Blue?". New Historian. Besoek op 3 Junie 2024.
  5. 5,0 5,1 (en) Flag, nation and symbolism in Europe and America. Londen: Routledge. 2007. p. 27. ISBN 978-1-134-06696-4.
  6. (en) "Flags That Look Alike". Encyclopædia Britannica. Besoek op 3 Junie 2024.
  7. (en) Jos Poels (Augustus 2011). "The Orange Pennant: The Dutch Response to a Flag Dilemma" (PDF). Proceedings of the 24th International Congress of Vexillology, Washington, D.C.: 892. Besoek op 3 Junie 2024.
  8. (nl) "Ceremonieel & protocol – Ministeriële- en Defensie publicaties". Overheid (Nederlandse regering). Besoek op 3 Junie 2024.
  9. (nl) "Ceremonieel & protocol". Overheid (Nederlandse regering). Besoek op 3 Junie 2024.
  10. (en) "Flag of the Netherlands". Encyclopædia Britannica. Besoek op 3 Junie 2024.
  11. (en) "Change the Luxembourg flag?". Luxembourg Times. 30 Julie 2015. Besoek op 3 Junie 2024.
  12. (en) "Dutch Flag". Vexillology Matters. Besoek op 3 Junie 2024.
  13. (nl) "verklaring van de kleuren van de Nederlandse vlag". Redactie Margriet. 27 April 2021. Besoek op 3 Junie 2024.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]