Annie Cannon

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Annie Jump Cannon
Annie Jump Cannon in 1922

Gebore 11 Desember 1863
Dover, Delaware
Oorlede 13 April 1941 (op 77)
Cambridge, Massachusetts
Nasionaliteit Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
Vakgebied Sterrekunde
Bekend vir Sterreklassifikasie
Invloed op Sarah Frances Whiting, Amerikaanse fisikus en sterrekundige
Toekennings Henry Draper-medalje (1931)

Annie Jump Cannon (11 Desember 186313 April 1941) was ’n Amerikaanse sterrekundige wie se werk instrumenteel was in die ontwikkeling van die moderne sterreklassifikasie. Sy het saam met Edward C. Pickering die krediet gekry vir die skepping van die Harvard-klassifikasiestelsel, die eerste ernstige poging om sterre te klassifiseer volgens hul temperatuur.

In 1896 het Cannon lid geword van ’n groep vroue wat deur die direkteur van die Harvard-sterrewag gehuur is om die Henry Draper-katalogus te voltooi. Nie lank daarna nie het onenigheid ontstaan oor hoe om sterre te klassifiseer. Cannon het ’n kompromie gereël tussen ’n ingewikkelde en ’n eenvoudige stelsel. Sy het sterre ingedeel volgens spektraalklasse O, B, A, F, G, K en M. Haar skema was geskoei op die sterkte van die sterre se absorpsielyne. Nadat ontdek is dat absorpsielyne en temperatuur saamhang, is haar stelsel aangepas om te voorkom dat katalogusse verander moet word.

Cannon se waarneming van sterre en spektrums was uitstekend. Haar Henry Draper-katalogus het byna 230 000 sterre bevat. Sy het ook katalogusse van veranderlike sterre gepubliseer, onder meer 300 wat sy ontdek het.